Gepubliceerd op: zondag 13 mei 2012

Vertaallab 18 Gilbert Gibson – 4 gedigte oor huise

Vertaallab is een serie op Ooteoote die dichters uit andere taalgebieden aan de lezer voorstelt. Elke aflevering minstens één gedicht. Dat u mag vertalen, als u wilt. Graag zelfs, wat ons betreft. Post uw vertaling van één (of meer) van de onderstaande gedichten als reactie op dit bericht.

___

[57]

in hierdie dae spyt my huis my
want ek bly die erns van die saak
vermy en bespeur net ‘n verhaal
van geheime wat ‘n haarbreedte
van die werklikheid verwyder is
daarom is ek selfs in my slaap
wakker en dwaal tot sonsopkoms
as bewys dat by almal die vermoë
bestaan om na ‘n beter plek te ontsnap
sonder om innerlike grein
prys te gee of te verfyn
‘n plek waar alles nuttig is
waar die mond nooit proe na bang
nie waar jy nie hoef te verlang na die
oorvloed van oupas wat aandag gee nie
hier is die lewe te maklik
verslaaf aan malligheid
en goeie bedoeling swak soos ‘n vuis
selfs in gedigte skryf die geskiedenis my
en nie andersom nie
elke aand in die huis waarin ek bly
groot en ingewy skyn
voor elke venster ‘n donker lig
wat helder in die toe oog terug-
kyk na my pragtige hande wat kan
nou meer as ooit
gereed word om te gaan
hulle begeer nie meer na meer nie
in my huis is ek en ‘n ligloosheid
wat wink al van ver
wat jou laat wonder presies
watter ander jou veilig maak
en my laat met ‘n treur
en die dreun van die hart op
in die borskas op in die kop
en die stof op die portaal se vensterbank
al is wat verborge bly
in so ‘n groot huis
jy kan as jy die erns en al daai
op dieselfde manier soek
in die blaaie van jou boek

___

[81]

ek wil jou huis omhels maar
daar’s nie mure nie
selfs al is jou stoep bloot-
gestel aan onheilige hande
en die heining ‘n deinende reeks
van skande wat ten spyte van
intensie tot die teendeel lei na groter verlies
na ‘n eksperiment waar gedagtes nog vry
die lyf se begeerte onvermydelik kan koester
selfs in konkriet lê onskuld en troos
waar hierdie bloedige lippe van jou
oor glimwit tande die laaste woord inkry
dit laat jou vensters soos jare voel waar-
oor die wind se lied met die
sluimerige spoed van voete in sirkels loop
en uit die aard van sinjale probeer geute
my stil te verduidelik
duidelik kan jy die uil jou naam hoor roep
duidelik kan jy die klop aan die deure voel

___

[6]

onderkant die huis is ‘n prieël en
daar sal niks jou kan ontbreek nie
dit hou die turflande mildelik terug
die grond leeg soos ‘n lidwoord
op ‘n ysterpaal sit ‘n kraai
en wag vir opvlieg
voordat jy jou oë kan knip
voordat jy kan sluk
gaan die elektriese lig jou binne
‘n omgekeerde teken van geheue
daar is cochenille wat aanpak
om jou keel daar
is ‘n grensdraad om jou vingers
en al wat ek verwag is
voorspelbare droogtes en swartryp
die liefde word ‘n leë plaashuis
tot al hierdie landelike temas
‘n taktiek om jou lyk langs
my neer te lê
daar sal niks jou kan ontbreek
ek behou die teenwoordigheid van
gees om ‘n donkerbril
op jou koue voorkop te sit die
verenigde front van cool
snags nog is ek verras as
‘n tortelduif begin te roep
die wanhopige sooie is nou agter ooglede
die opstanding is uit die dood
vanaand slaap jou lyf teen my
aan soos ‘n outydse stoel
ek word jou waghond jou
plaasaanval jou psalmis
onderkant die huis is ‘n prieël
daar sal niks jou kan ontbreek

___

[45]

ek ry in die aand huis toe
die bakkievenster oop
‘n wind deur die afgemete loopvlak
van leë strate verby versorgde
tuine asof vergiftig deur die stilte van precon
‘n hond blaf teen die eerste sterre
‘n straatlig vertel waarvan hy weet
iewers op ‘n stoep maak iemand rusie
stemme kwistig voor die koelte van die werf
verby die welkome afwisseling van
moontlike oorwinning
die flikkerlig gaan aan
‘n geel lig na die een kant getrance
garagedeure skuifel hul rol in erns op
tussen die afgrond van liefdelose huise
is daar drake
is daar ‘n wapenstilstand so
ooglopend soos ‘n kruppel klouterdief
en die einde van die roete
verpak dit alles in harmonie en orde van terreur
dan knars die wiele tot stilstand
my tong stil soos pypolie in die verhemelte rou
en ontlig teen die horison
handhaaf die maan vanaand ‘n lae profiel

___

Gilbert Gibson (1963-) het op ’n plaas in Suid Afrika grootgeword. Hy het op Bloemfontein in die medisyne studeer en werk tans as ’n privaat internis daar.
Sy eerste verse is as skoolkind in Standpunte en Tydskrif vir Letterkunde opgeneem, en sy eerste bundel (Boomplaats, Tafelberg) het in 2005 verskyn. Daarna het Kaplyn (2007) en oogensiklopedie (2009) gevolg, en ‘n vierde waarskynlik later in 2012.

Over de auteur

- Rozalie Hirs is redacteur van de LL-serie (Lage Landen-serie) en Vertaallab op Ooteoote. Daarnaast is zij dichter van boeken en digitale media. Zie ook www.rozaliehirs.nl.